Goeie nuus skaap-storie: So lyk ‘n produsent met passie - Welgedaan De Oude Kraal!

Deur Marina Bester & Lizanne Coetzee van “Lambs Cooking Mutton”

En so vat ons twee stadsmeisies die langpad vanaf Pretoria na een van Suid Afrika se mees gesiene plase en families in die Vrystaat. Mens kan nie help om hoë verwagtinge te hê nie, veral wanneer ieder en elk in Bloemfontein ‘n kyk van pure jaloesie in hul oë kry wanneer jy hulle vertel jy is op pad om namens Skaapvleis SA by die lieflike Boer Helen–Joan en Mevrou Marie Lombard te gaan kuier op hul alombekende familieplaas...

Die oop, droë velde en landerye langs die N1 tussen Pretoria en Bloemfontein getuig van ‘n lang droogte in hierdie mooi wêreld. Die uitsig vernuwe en versterk ons respek en bewondering vir ons Suid Afrikaanse produsente, wat in 2016 al deur swaar tye is. Op die grondpad na die skaapplaas De Oude kraal verskyn daar soos ‘n skielike lugspieëling in die woestyn ‘n laning bome wat ons kar in die koelte vergesel na ‘n pragtige ou plaashuis. Ons word hartlik gegroet deur Lilly, Boer Helen-Joan Lombard se mees onlangse SPCA aangenome Skaaphond, asof sy geweet het ons kom kuier. Die vriendelike personeel van “De Oude Kraal Country Estate and Spa” nooi ons in om onsself tuis te maak in hul gesellige nuwe Bistro, deel van hul nuutste uitbreiding en onthaalsaal. Dis moeilik om te fokus op wat almal vertel, my oë is gefikseer op die ongelooflike skoonheid wat sinoniem is met De Oudekraal. Die een hele muur van die nuwe onthaalsaal is ‘n venster wat uitkyk uit oor die natuurskone Vrystaatse vlaktes. Die saal is gebou om soos ‘n elegante groot skuur te lyk en is oop en lig met pragtige hout plafonne en elegante meubels wat geen verdere dekor benodig nie. In my verbeelding speel daar ‘n pragtige sprokies plaas-troue hier af. Ek kom tot die besef dat ons hoë verwagtinge duidelik nie hoog genoeg was nie. De Oude Kraal, met sy kombinasie van oud en moderne argitektuur, groen grasperke en groot ou bome, ‘n uitsig vir dae en die kalm atmosfeer, is vêr verby enige iets wat ons twee stadsmeisies ooit verwag het.

Uitgevat in Hi-tech werkstewels, ‘n tweerigting radio, ‘n mooi pienk bloes, hout skapie oorbelle en ‘n groot glimlag kom Helen-Joan na ons toe aangestap. Mens kan sien hierdie is ‘n dame “on a mission”. Dra alle “boere” dan nie two-tone khaki hemde nie? Nee, dis een van die vele verkeerde stereotipes wat vandag vir my duidelik geword het.  Boer Helen - Joan, soos ek agtergekom het in hierdie paar uur saam haar, verdien uit en uit haar status as 5e generasie suksesvolle boervrou op hierdie grond. Sy is ‘n vrou met visie en ambisie, ‘n entrepreneur met ‘n B.Com Finansiëlebestuur graad, en ‘n produsent met ‘n passie vir landbou, Suid Afrika  en die lewe; die perfekte kombinasie vir ‘n suksesvolle landbouprodusent.

Ons raak dadelik aan die gesels oor die “Skaap- en Bierproe fees” wat op De Oudekraal gehou word. Ons kan nie ons opgewondenheid oor die geleentheid, wat elke jaar einde April gebeur, inhou nie! Die geleentheid is ‘n jaarlikse hoogtepunt vir die plaaslike dorpsbewoners sowel as produsente in die area, en ‘n hele paar stadsjapies en skaapvleis- en bier liefhebbers van oral oor die land. Hierdie geleentheid is ook so reg in Skaapvleis SA se kraal en ons gaan hierdie jaar die hele geleentheid op kamera vasvang sodat die wat nie daar kan wees nie ook kan sien waaroor dit gaan! Hier het ons skaapvleis produsente in ons midde wat op hul eie unieke manier verbruikersopvoeding doen aan ‘n generasie wat dikwels nie eens weet daar bestaan meer as een ras skaap nie, nie eens gepraat van die feit dat elk se vleis anders smaak nie! By hierdie fees word daar ‘n allemintige 24 skape gespit, van boonop 12 verskillende rasse, wat dan bedien word saam met ʼn drankie wat die spesifieke smaak van die spesifieke ras se komplimenteer. "Mens kry ʼn vleis Merino en ʼn wol Merino en die een tussen in, die Donhe – Merino... dan praat jy van ‘n Dorper, ‘n Dormer, ‘n Ile De France, ‘n Suffolk, ‘n Alfrino, ‘n Van Rooy…” so noem Helen vir ons die rasse op. Min verbruikers besef dat wanneer jy skaapvleis koop dit enige van die 15+ rasse, wat in SA geproduseer word, kan wees. Helen–Joan vertel ook dat die smaak van die skaapvleis afhang van waar die skaap geloop het, wat dit geëet het en klomp ander faktore wat enige ervare produsent jou van kan vertel. By hierdie fees het verbruikers die geleentheid om die smaakverskille tussen die vleis van verskillende rasse eerstehands te beleef. Hierdie is in geen manier “rasse diskriminasie” nie. Inteendeel, dit leer verbruikers van die veelsydigheid van Suid Afrikaanse skaapvleis, dat daar ‘n tipe skaap vir elke smaak is. Dit wys ook vir verbruikers hoe skaapboerdery fyn beplanning, spesiale vaardighede en jare se ondervinding benodig om te weet watse ras die beste in sekere omstandighede aard. Hierdie geleentheid bewys dat skaapvleis en die produksie daarvan enige dag kan kersvashou by die produksie van vele ander fynproewer kosse soos wyn en kaas.  Die idee agter die fees het aanvanklik ontstaan toe die moeder van De Oude Kraal, die gesiene Mevrou Marie Lombard, en die res van die familie koppe bymekaar gesit het om en nuwe maniere te kry om verbruikers geïnteresseerd te hou in skaapvleis. Hierdie dinkskrum het ontaard in vele idees, en ons was hoogs beïndruk om te hoor hoe die span by De Oude kraal dit regkry om ‘n ou gunsteling kos soos skaapvleis aan te pas by kos-giere van vandag. Onder andere doen hul skaapvleis verwerking waar hul skaapvleis omskep in verskillende gerieflikheidsprodukte vir diegene wat nie tyd het om ure voor die kospotte te staan nie. Hierdie gerieflikheidsprodukte sluit halfgaar skaapvleisgeregte soos skaapboud en heerlike kerrie-afval in wat net vinnig in die oond, of op die braai, gegooi kan word. Hierdie produkte kan direk by hul pragtige plaas-deli gekoop word.  Hul droom is om die winkel later uit te brei na die Kaap of Pretoria maar vir nou laat logistiek net toe om dit van die plaas af te bestuur.

So gaan ons van gesels oor toekomsdrome na die storie agter De Oudekraal se sukses oor die jare. Die stuk grond het ‘n ryk geskiedenis wat sowat 163 jaar terug begin. Die plaas, oorspronklik Bruidegomspruit, is in 1853 by Adam Kok gekoop deur ʼn mnr Wilhelm, ‘n Duitser. Die plaas was daarna in 2 verdeel, sodat elk van sy seuns na sy dood ‘n plaas kan erf. So het een van die seuns sy plaas hernoem na die kasteel Wilhelmshoogte in Duitsland. Wilhelmshoogte is toe verder bemaak aan die volgende seun in die familie, wat groot ontsteltenis geskep het by dié se ma vir wie niks in die testament gelos was nie. Soos enige goeie boervrou maak sy toe maar ‘n plan en koop die aangrensende plaas en begin self boer – en dit was die begin van hierdie familie se lang lyn produsente van die skoner geslag wat nie bang is om hul hande vuil te maak nie. Haar seun (wat Wilhelmshoogte geërf het) was bietjie van ʼn rebel met ‘n swakheid vir "vinnige vrouens en stadige perde". Hy het die opwinding van dobbel te veel geniet en so sy erfporsie weggedobbel. Na die seun se dood het sy suster, wat skynbaar na haar ma geaard het, sy plaas oorgeneem. En so het die boerdery voortgeleef, van een vroue produsent na die volgende en vandag is dit trotse produsente en besigheidvrouens voor ons, Marie en Helen–Joan, wat  die vrouens van De Oude Kraal se naam hoog hou met hul passie vir besigheid en landbou.

So tussendeur al die gesels het ons al vergeet ons is hier vir middagete en word ons aangenaam verras met ‘n verfrissende somerslaai met sappige stukkies lamsvleis, bessies en konfyt, en natuurlik ook die beroemde lamspastei wat almal hoog aanbeveel het. Dit is met soveel finesse voorgesit mens wil dit amper nie eet nie. Terwyl ons hierdie feesmaal geniet, hang ons verder aan Helen en haar ma se lippe terwyl hulle ons van die plaas se stories en geskiedenis vertel. De Oudekraal se restaurant was laasjaar bekroon met hul tiende American Express® Platinum Fine Dining toekenning vir hul populêre, topklas, ses-gang aandetes wat bedien word in die ou plaashuis. Almal in die omgewing weet dat Marie Lombard nog altyd ‘n passie en talent het vir kosmaak en sy gebruik slegs die varsste produkte, meestal vanuit Helen-Joan se groentetuin.

 

Helen-Joan bestel vir haar ‘n bakkie roomys, en vertel vir ons meer van haar skaapwol produkte, die skaapskeer proses en haar nuwe skaapwinkel wat allerhande oulike goedjies soos skaapvelpantoffelsverkoop.

Na ete vat Helen-Joan ons vir ‘n toer dat ons De Oude Kraal en haar skaapboerdery in sy volle glorie kan besigtig. Die meerkatgesin volg ons oral soos ons rondstap op die plaas. Boelie, (die pa meerkat en so gedoop vanweë hy die honde “boelie”), het sy vrou Kate (fyn en klein nes ‘n Engelse prinses), gaan soek in die veld en toe die tyd reg was, haar huis toe gebring sodat die Lombard gesin haar kan ontmoet. Later het die tweetjies weer die pad veld toe gevat en na paar maande terug gekom met vier toevoegings tot die gesin. Oral waar ons loop en als wat ons sien het ‘n interessante storie, soos die 2 mure vol geskenkte dasse in die kroeg area, die ou familie fotos, die oorspronklike muurpapier en vloere in die huis, Helen se pa se selfgeboude wynkelder met van Suid Afrika se mees bekroonde wyne en natuurlik die tennisbaan wat nou ‘n volstruishok is... Alles kom met ‘n storie. Ons loop en gesels oor “Boer Helen” se verskyning op die Kyknet program ,“Boer soek ‘n Vrou”, as een van die boere in 2015. “Ag daar het nie veel van gekom nie, dit was nie ‘n goeie tyd vir my nie, my skape het gelam”. Ons lag lekker en besef dat hierdie produsent inderdaad haar gewig in goud werd is en dat die man wat haar hart steel ‘n baie spesiale kêrel sal moet wees.

Helen het verseker haar talent vir landbou asook haar entrepreneursvernuf van haar ma geërf, wat 25 jaar terug die luukse, alom bekende gastehuis begin het op die plaas terwyl sy self ook met skape geboer het (en boonop produksie verdubbel het). Tannie Marie het destyds ‘n gaping in die mark gesien vir ‘n tipiese lekker tuisgekookte Sondagmiddagete. So het sy haar beroemde buffetetes begin en teen slegs R15 per persoon kon jy die “in ding” doen op ‘n Sondag en so ‘n ete kom geniet op die plaas.  En sy het ook nie daar gestop nie, nege jaar terug sien sy nog ‘n gaping in die mark en omskep hul lapa in ‘n unieke plaas- spa saam met een van haar ander dogters Marie-Louise. Van die unieke sluitkassies, tot die mosaïek skaap wat teen die muur pronk in die stoomkamer, is elke hoek en draai uitgelê met die fynste detail. Die soet reuk van somerblomme laat mens dadelik ontspanne en kalm voel, lafenis vir die siel op ‘n warm Vrystaat middag. Definitief ‘n moet-besoek en bederf wanneer jy jouself in die Bloemfontein omgewing bevind. Intussen het Marie-Louise Lombard nog ‘n gastehuis, De Oude Kraal Dorpshuis, in Bloemfontein oopgemaak, terwyl sy haar regsstudies voltooi het. Waarlik ‘n familie van vele talente.

Die Lombards van De Oude Kraal bewys dat daar oneindige geleenthede is vir Suid Afrikaanse skaapvleis produsente. Dit hang als af van hoe hard jy bereid is om te werk en hoeveel jy bereid is om te gee. Generasie na generasie bewys die dames van De Oude kraal dat om ‘n “boervrou” te wees beteken nie jy bak heeldag brood en beskuit en voer die hoenders nie. Hoegenaamd nie, ‘n De Oude Kraal skaapvleisprodusent is ‘n vrou met ‘n goeie kop op haar skouers, met twee regterhande, ‘n sin vir besigheid en ‘n passie vir die lewe en Suid-Afrikaanse landbou. De Oudekraal met “haar” ongelooflike uitsig, vriendelike geselskap en stories sal verseker hierdie stadsmeisies weer sien!

Besoek gerus De Oude Kraal Country Estate and Spa se webtuiste vir nog inligting by www.deoudekraal.com en De Oude Kraal Dorpshuis by www.deoudekraaldorpshuis.co.za.

Gaan kyk ook na beeldskone fotos van troues en funksies wat onlangs by De Oude Kraal gehou is op hul Facebook blad “De Oude Kraal Country Estate and Spa”.

*Is daar ‘n skaapvleisprodusent in jou area wat die industrie trots maak, laat weet ons by marina@healthymeat.co.za dat ons hul storie ook kan vaslê as ‘n “Goeie nuus skaap-storie” vir die hele land om te lees

 

 Lambs cooking Mutton: Marina and LizanneFellow foodie friends, Marina and Lizanne are “Lambs Cooking Mutton”! Armed with their blog posts and a frequent feature in the “Weg and Go” magazines they are on a mission to make cooking with lamb inspiring…

 

Lambs cooking Mutton: Marina and Lizanne

Fellow foodie friends, Marina and Lizanne are “Lambs Cooking Mutton”! Armed with their blog posts and a frequent feature in the “Weg and Go” magazines they are on a mission to make cooking with lamb inspiring and creative but also less intimidating for the modern young lady or gentleman! They will also be travelling across SA to bring you news and reviews on South African meat festivals and restaurants where winning lamb and mutton dishes are served.

Although Lizanne is a designer by day, and Marina a MSc Nutrition student on the side, their roles are ironically switched when it comes to cooking with lamb. Lizanne is always looking for ways to cook and eat healthy and will also keep you up to date on how to keep your lamb dishes as healthy as possible. Marina on the other hand loves creating absolute indulgent and creative lamb dishes that have no mercy on your diet. But between the two of them they will provide you with lamb dishes for every occasion!